ANC Central Number
Click to join the ANC
African National Congress

AFRICAN NATIONAL CONGRESS

SOUTH AFRICA'S NATIONAL LIBERATION MOVEMENT

back

Author : Nelson Mandela

Toespraak deur President Mandela tydens `n besoek aan die Ruiterwag-Saamtrek vir jong Afrikaner-Leiers

13 Januarie 1996, Hartbeesjeugterrein

Geagte Voorsitter;
Dames en Here

Baie dankie vir die uitnodiging om hierdie byeenkoms van Jong Afrikaner-leiers toe te spreek. Slegs `n paar jaar gelede sou dit ondenkbaar wees dat ek die Ruiterwag sou toespreek! - maar dit is diw wonder van Suid-Afrika dat ons daarin slaag om dit wat onmoontlik gelyk het te bereik. Ons land en sy mense het nog nie heeltemal genees nie - daarvoor le die wonde wat apartheid ons almal toegedien het nog te diep - maar ons het al ver gevorder op die pad van nasionale versoening.

Hierdie proses van genesing gaan gepaard met die uitdaging dat `n mens verby die belange van jou eie kultuurgroep moet kyk en die groter geheel van Suid-Afrika se belange ook moet nastreef. Die toekoms van Suid-Afrika hang tot `n groot mate daarvan as of `n groter Suid-Afrikaanse bewussyn geskep kan word waar die mense van Suid-Afrika hulself nie in die eerste instansie sien as Afrikaners, of Kleurlinge, of Indiers, of Xhosas ensomeer nie; maar as Suid-Afrikaners wie se optrede gevorm word deur so `n bewussyn. Die mate vaartoe ons daarin slaag sal die sukses van ons nasiebouprogram bepaal.

Trouens, juis omdat u in u eie reg leiers is, behoort u bewustelik daardie een slaggat te vermy waarin meeste Suid-Afrikaners so maklik val: naamlik om sake allereers te benader vanuit die gesigspunt van die rasse- of etniese groep waaraan hulle behoort. Sonder om noodwendig `n mens se wortels prys te gee, behoort ons altyd eerste die vraag te stel: wat is die beste belang van Suid-Afrika en al sy mense?

My boodskap aan u is ge-anker in die konteks van ons Suid-Afrikanerskap, met erkenning dat u soos alle Suid-Afrikaners ook `n reg het tot die uitbou van u eie kultuur en taal.

Ons grootste krag en hoop vir `n voorspoedige, regverdige en vreedsame nuwe Suid-Afrika le juis opgesluit in so `n gees van bereidwilligheid tot saam-praat en skeppende samewerking tussen al die gemeenskappe van ons land. Ek is dankbaar vir die groeiende gesindheid van samewerking wat baie jong Afrikaners aan die dag le.

Die jeug het `n besondere taak in die proses van nasiebou, rekonstruksie en ontwikkeling. Ons, die ouer geslag, dra onvermydelik nog swaar aan die las van ons verlede. Julle, die jeug, kan met oper gemoedere na die toekoms kyk en daaraan bou. Die Afrikaner-jeug het daarom dan ook `n historiese taak om nou weer `n leierskaprol te speel in julle gemeenskap in die proses van nasiebou.

Jul leierskap is juis nou van die uiterste belang om die delikate balans tussen Suid-Afrikanerskap en Afrikanerskap te vind. Dit sal wysheid en groot sensitiwiteit van die nuwe generasie van Afrikaner leiers verg en `n bewussyn dat die indrukke wat u skep by u mede Suid-Afrikaners van die uiterste belang is om of vertroue te skep of dit te ondermyn.

Terwille van `n eerlike gesprek moet ek vanoggend vir u se dat die onlangse verklarings wat gedoen is in die naam van die "Stigting vir Gelykheid voor die Wet" en die optog wat die organisasie vandag na die Uniegeboue gereel het, in `n uiters negatiewe lig gesien word deur die meerderheid van die mense in Suid-Afrika. Die betrokkenheid van leierskap figure uit die Apartheid regime van die verlede en die valse verklarings wat gemaak is in verband met die doelstellings van die Waarheids en Versoeningskommissie en die Regering van Nasionale Eenheid se taalbeleid laat `n wrang smaak in die mond. Die indruk word geskep dat `n mens hier te doen het met pogings om die onregverdige bevoordeling waarby die Afrikaner in die verlede gebaat het, te behou.

Ons almal weet dat in die vorige bestel, in die jare van apartheid en blanke oorheersing, het die Afrikaners die politieke mag besit en op alle terreine was hulle besonderd bevoorreg. Dit is daarom te verstane dat die nuwe bestel met heelwat vrees en voorbehoude benader word. Maar terselfdertyd weet `n mens ook dat hoe minder Afrikaners die nuwe sosiale en politieke bestel aanvaar, hoe moeliker word hul eie posisie - en ek wil allermins he dat die Afrikaner op die kantlyn van die politiek van die nuwe Suid-Afrika moet staan. U, die jeug, het die taak om die leiding te neem om u gemeenskap teen volle betrokke te hou as aktiewe en entoesiastiese deelnemers aan die nuwe Suid-Afrika.

Die nuwe generasie van jong leiers in die Afrikanergemeenskap sal genoeg moed aan die dag moet leom aan die leiers van vorige generasies dit duidelik te maak dat die ware belange van Afrikaners nie deur `n eng en eksklusiewe benadering bevorder kan word nie. Julle moet weier om betrek te word by ondernemings wat die boodskap uitstuur dat Afrikanerskap gelykgestel word aan die verdediging van die skending van menseregte en teenkanting teen die onafhanklike Waarheids- en Versoeningskommissie; die verdediging van blanke bevoorregting te midde van die massale armoede in ons land; en teenstand teen demokratiese regering. Sulke persepsies, glo ek, is alles in ondiens aan die Afrikaner.

Die voortbestaan en die voorspoed van ons nasie vereis mans en vroue met visie en durf, persone wat nie wegskram van hul verpligtinge as Suid-Afrikaners nie. Indien julle bereid is om hierdie uitdaging met waagmoed te aanvaar, wag daar `n blink toekoms vir die Afrikaner in ons land. Na sulke persone wil ek my hand uitsteek in die wete dat u my onmiskenbare landgenoot is en dat ons almal saam kan bou aan `n tuiste. Dan kan u van my verwag om die kosbare geestesgoedere van die Afrikaner te beskerm asof dit my eie is, want ek sal verseker voel van u lojaliteit en trou aan Suid-Afrika en sy mense.

Ek besef maar net te goed dat wanneer Afrikaners oor die toekomstige rol en plek van Afrikaners praat, dit meestal te doen het met die plek en status van die Afrikaanse taal. Ek het dit al by herhaling gese, maar ek dink dit is goed om dit weereens vandag te se: Afrikaans is `n taal van hierdie land. As sodanig sal Afrikaans presies dieselfde beskerming ontvang soos enige ander taal; en presies dieselfde mate van ondersteuning en bevordering as ander tale. Die uitmuntende prestasies van Afrikaans op verskeie gebiede, is prestasies waarop die hele Suid-Afrikaanse bevolking trots kan wees.

Daar is derhalwe van die kant van die Regering van Nasionale Eeenheid geen poging om Afrikaans af te gradeer nie. Dit sal kultureel onnosel wees om af te breek wat reeds gebou is. Wat die Grondwet ons wel verplig om te doen en wat `n morele plig is in die nuwe samelewing waaraan ons bou, is om al die verskillende tale van ons land op `n gelyke voet te plaas. U sal sekerlik saamstem dat die spesiale en bevoordeelde posisie wat Afrikaans en Engels in die vorige bestel geniet het, nie onveranderd gehandhaaf kan word nie. U as jong leiers het die plig en die geleentheid om te help bou aan `n situasie waar al die tale van ons land eenders behandel en bevorder sal word. Ek wil u nogmaals die versekering gee dat daar geen spesifieke vyandigheid teenoor Afrikaans is nie; en dat daar ook geen poging is om Engels te bevorder as `n manier om enige ander taal by te kom nie.

Die Afrikaners het `n lang en trotse geskiedenis van om te stry vir u vryheid. Ten spyte van groot opofferinge en aangrypende helde dade was die Afrikaners nie in een van die twee Vryheidsoorloe milter oorwinnaars nie. Tog het u elke keer uit die stryd getree met `n verdiepste sin van u eie identiteit en daaruit het ons land op verskillende maniere gebaat.

Vandag staan u voor `n Derde Vryheidsoorlog en die wyse waarop u deelneem aan hierdie stryd sal ook tot `n groot mate die houding teenoor Afrikaans en Afrikaners help bepaal. Die oorlog vandag is nie militer teen `n eksterne of interne vyand nie. Dit is `n oorlog en stryd teen verdeeldheid en grootskaalse sosiale ongelykheid. Dit is nie net Afrikaners wat vir Afrikanerregte en belange verantwoordelikheid het nie. Ek, onder andere, het dit ook nog altyd my erns gemaak om aktief om te sien na die belange van Afrikaners, net soos van die ander groepe. En op dieselfde wyse het Afrikaners die verpligting om hulle nie net met die belange van die Afrikaners te bemoei nie, maar aktief deel te wees van die strewe om die lewe van alle mense in die land te verbeter.

Dit is in die konteks wat ek u wil vra om die kwessie van regstellende aksie te benader. Daar is ongelukkig `n groeiende persepsie onder die meerderheid van die mense van Suid-Afrika - wat onder apartheid gely het - dat kritiek van Afrikanerkant in verband met regstellende aksie uitsluitlik daarop gemik is om soveel moontlik van die Afrikaner se onregverdige bevoorregte posisie van die verlede te behou. Vir soverre dit waar is sal u hand in eie boesem moet steek. Selfkritiek oor `n aangeleentheid soos hierdie hoef nie vernederend te wees nie, dit kan bevrydend wees. Dit is egter van die uiterste belang dat ons almal moet verstaan die onregverdighede van die verlede aangespreek moet word. Oor die wyse waarop regstellende aksie toegepas word is dit belangrik dat ons met `n oop en kritiese gemoed daaroor moet kan praat. Enige konstruktiewe voorstelle van u kant sal waardeer word.

Ek het opgemerk dat die Ruiterwag `n organisasie is wat hom op `n Christelike grondslag baseer. Onderliggend aan die idee van die Waarheids en Versoeningskommissie is daar opvattings wat diep weerklank behoort te vind by gelowiges. Die hoofoogmerk met die kommissie is om nasionale versoening te bewerkstellig. Ware en blywende versoening is egter nooit `n goedkoop of oppervlakkige onderneming nie. Ware versoening en vergifnis veronderstel dat ons kennis sal neem van die pyn wat die een die ander aangedoen het; dat ons besorgdheid oor die wat gely het sal betoon en dat ons dan as `n meer gesuiwerde nasie saam sal hande neem en `n toekoms bou waar sulke vergrype nie weer moontlik sal wees nie. Ek voel verseker dat die besondere manne en vroue wat aangestel is in die Kommissie, van sodanige kaliber en integriteit is dat hulle sal toesien dat die Kommissie in daardie gees werk.

Die opmerkings wat duur sommige van u, ook onder die vaandel van die "Stigting vir Gelykheid voor die Wet" gemaak is, oor die Waarheids en Versoeningsskommissie was uiters ongelukkig. `n Mens is met die indruk gelaat dat daar gepoog word om Afrikaners deur middel van `n vrees psigose te mobiliseer teen die Kommissie. Die waarheid oor die doelstelling en die funksie van die Kommissie is verdraai en ek wil `n baie ernstige oproep op enige van u wat by sodanige verklarings betrokke was om dit te stop. U doen die saak van Afrikaner net skade en u doen u eie mense `n groot onreg aan deur hul te mislei oor wat die Regering se werklike versoenende oogmerke is met die Kommissie. Soos ek al vroeer gese het; u het `n plig om u mense te help om werklik deel van die nuwe Suid-Afrika te word. Terwille van die Afrikaner, moet assegblief nie toelaat dat enigiemand u daarvan tee hou nie.

Laat my ten slotte toe om u organisasie, en al die jong Afrikanerleiers, alles van die beste toe te wens vir hierdie jaar wat voor ons le.

Ons het in die byna twee jaar wat verby is `n goeie grondslag vir ons nuwe nasie gele. 1996 is die jaar waarin ons moet konsolideer en daadwerklike veranderinge in de lewens van ons mense moet bring - veral hulle wat in die verlede soveel onder apartheid geley het. Daarin het elkeen van ons `n groot rol om te speel - U as jong Afrikaners ook.

Ek wil nog `n keer by u aandring om nooit te vergeet dat u Suid-Afrikaners is nie. Indien dit altyd `n duidelike deel van u bewussyn is het ek geen twyfel dat u, soos in soveel tye in die geskiedenis van ons land, weer eens gesien sal word as sentrale bouers aan die nuwe. Volwaardige Suid-Afrikaners wat nou nog meer as ooit te vore hul budrae tot hierdie pragtige land van ons kan maak, omdat hulle finaal bevry is van die kettings van rassisme en apartheid.

Dankie


back