Jan van Eck : Begrafnisrede
4 Februarie 2009
NM Phosa : Tesourier-Generaal, ANC.
Ons lees in Mattheus 5 vers 9 : Geseend is die Vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word".
Jan van Eck was so n man. Hy sal nie net as vredemaker n kind van God genoem word nie, maar ook n seun van Suid-Afrika, en n man van Afrika.
Baie vredemakers blaas hulle eie beuel sodat almal in die buurt weet wat hulle doen en presies weet wanneer en waar hulle wat doen.
Jan van Eck was nie so n man nie. Hy het dit wat hy gedoen het, stil gedoen.
Hy het die kuns van luister bemeester en was vir almal n voorbeeld van hoe n vredeproses stil maar dinamies vorentoe bestuur kan word as jy die vertroue van albei partye in n geskil gewen het.
Min mense het geweet van die enorme rol wat hierdie stil, maar bekwame Afrikaner en Afrikaan in Burundi gespeel het.
Hy het saam met enkele ander bemiddelaars daarin geslaag om dekades van haat en geweld om te keer in n gewilligheid om te praat, om die ander kant te hoor, en om lands- en streekbelang bo eie belang te stel.
Jan van Eck het n lewe van diens gelewe.
Hy het bekend geword as n liberale politikus wie sonder skroom sy oortuiginge oor n inklusiwe oplossing vir die Suid-Afrikaanse geopper het lank voordat dit die mode van die dag geword het.
In 1989 het hy die ANC in exile ontmoet onder skaduwee van bespotting, uitwerping en moontlik arres deur die regering van die dag.
As n man van oortuiging het hy dit egter gedoen omdat hy toe reeds verstaan het mense van verskillende oortuigings mekaar in die middel van brug kan ontmoet sonder om die beginsels wat hulle daarheen gedwing het, prys te gee.
Hy was, van toe af, n brugbouer wat dit gesoek het mense bymekaar bring, eerder as dit wat mense uit mekaar dryf.
Die Suid-Afrika van vandag het steeds baie Jan van Ecks nodig, binne en buite die ANC.
Ons het mense van diepe oortuiging nodig wat weet, soos hy geweet het, dat n mens slegs sinvol kan leef as jy iets vind wat groter as jou eie belang is.
Jy hoef nie aan n spesifieke politieke party of aan n sekere kultuurgroep te behoort om n verskil te maak as vredemaker nie.
Die reenboog het verskillende kleure, en tog vorm dit een reenboog, een simbool van uitkoms en van toekomshoop.
In ons verskille le die saad van ons eenheid.
Aan die einde van sy lewe het Jan van Eck se invloed ver buite die grense van Suid-Afrika gestrek en sal die gemis van sy ontydige dood oor die hele kontinent heen gevoel word.
Ons in die ANC is trots op die eer om langs sulke Afrikaners en Afrikane te mag staan.
Dit is leiers soos hy wat sonder moegword werk en gewerk het aan n beter toekoms vir ons kinders en hulle kinders.
Wanneer Jan vandag terugkeer na die skoot van Moeder Afrika swel ons bors van trots as ons se: n Groot spies het geval, maar ons sal dit optel en in sy nagedagtenis vorentoe dra.
Ons eer Jan van Eck graag vandag voor sy familie en vriende.
Sy lewe was n voorbeeld vir ons, n helder lig wat vir ons die weg die toekoms in sal baan.
Ek dank u.
Issued by
African National Congress