AFSLUITINGSREDE DEUR DIE PRESIDENT VAN DIE AFRICAN NATIONAL CONGRESS, THABO MBEKI, BY DIE TWEEDE NASIONALE ALGEMENE VERGADERING VAN DIE ANC

3 Julie 2005

Voorsitter,
Adjunk-president,
Lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee,
Kamerade afgevaardigdes:

Ons is op die punt om ons Tweede Nasionale Algemene Vergadering af te sluit. Namens die Nasionale UItvoerende Komitee, die afgevaardigdes en die beweging as geheel wil ek graag die Rektor van die Universiteit van Pretoria, Professor Callie Pistorius, die personeel, studente en werkers van hierdie belangrike nasionale opvoedkundige bate bedank vir alles wat hulle gedoen het om by te dra tot die sukses van ons Nasionale Algemene Vergadering.

Ons het almal mooi geluister na wat Professor Pistorius gesê het toe hy ons almal Donderdag by die Universiteit verwelkom het. Hy het 'n ondubbelsinnige boodskap uitgedra wat gepraat het van die rol van hierdie belangrike sentrum van opvoeding, onderwys en navorsing as 'n agent van verandering wat toegewy is aan die taak om die wen-nasie te bou waartoe miljoene van ons mense verbind is.

Dit het aan ons die regte beginpunt verskaf vir die werk wat ons by hierdie Algemene Vergadering moes doen, om die volgende stappe te oorweeg wat die ANC self moet doen om by te dra tot die bou van die wen-nasie waartoe miljoene van ons mense verbind is.

Ek is seker dat die Nasionale Algemene Vergadering sal saamstem dat, wanneer ons die Raadsdokumente publiseer, ons die inspirerende rede wat Professor Callie Pistorius gelewer het, daarby moet insluit.

Soos ons ons werk afhandel, en namens die Nasionale Uitvoerende Komitee en myself, wil ek graag die afgevaardigdes hartlik bedank vir die erns waarmee hulle die werk van die NAV bejeën het.

Die dokumente wat ons aanvaar het, met inbegrip van ons Verklaring, gee 'n duidelike aanduiding van die taak op hande. Die uitdaging wat ons in die gesig staar, is om al die besluite wat ons geneem het op te volg, ten volle bewus van ons verantwoordelikhede teenoor ons land en mense.

Onder andere bevat die dokument oor Organisatoriese Kwessies wat ons aanvaar het, die volgende belangrike stelling:

"Die verklaring in klousule 4.15 van die Konstitusie (van die ANC) moet deel uitmaak van die lidmaatskapsvorm, en nuwe lede behoort hierdie eed te neem wanneer hulle aansluit."

Ek is seker dat ons met die nodige dringendheid sal optree om hierdie belangrike besluit van ons Nasionale Algemene Vergadering te implementeer.

Die afgevaardigdes is natuurlik terdeë bewus wat hierdie eed, klousule 4.15 van ons Konstitusie, bepaal, aangesien ek, afgesien van enigiets anders, ook die vrymoedigheid geneem het om dit in my openingsrede aan te haal. Laat ek dit weer uitlees:

"Ek verklaar plegtig dat ek die doelstellings en oogmerke van die African National Congress sal navolg soos uiteengesit in die Konstitusie, die Vryheidsmanifes en ander aanvaarde beleidspoisisies,

"dat ek vrywillig by die organisasie aansluit sonder oogmerke van materiële voordeel of persoonlike gewin,

"dat ek instem om die Konstitusie en strukture te eerbiedig en as 'n lojale lid van die organisasie te werk,

"dat ek my energie en vermoëns aan die organisasie beskikbaar stel en take sal uitvoer wat aan my opgelê word,

"dat ek sal meewerk om die ANC 'n nog meer doeltreffende instrument van bevryding in die hande van ons mense te maak,

"en dat ek die eenheid en integriteit van die organisasie en sy beginsels sal verdedig, en sal stry teen enige tendens tot ontwrigting en faksievorming."

Oor die laaste paar dae het ons talle kwessies onder die loep geneem wat wesenlik is tot die toekoms van ons land. Ek glo dat, wanneer ons aan die nasie terugrapporteer oor ons besluite, ons mense alle rede sal hê om gerusstelling te put daaruit dat die leidende politieke formasie in ons land steeds vas staan in sy vasberadenheid om hul belange te dien en hul aspirasies aan te spreek.

Afgesien daarvan om in die volle sittings te sit en om na die geïntegreerde verslae oor die werk van die verskillende kommissies te luister, het ek ook, soos ander lede van die Nasionale Algemene Vergadering, die geleentheid gehad om party van die Kommissies te besoek.

Dit was inderdaad bemoedigend om uit die gehalte van die afgevaardigdes se bydraes tot die besprekings te sien dat u, kamerade, inderdaad die besprekingsdokumente deeglik bestudeer het. Daarbenewens was dit vir my duidelik dat u met verloop van tyd 'n ernstige poging aangewend het om die fynere punte van die kwessies op die agenda van die NAV te verstaan, asook die objektiewe situasie in ons land wat ons moes oorweeg.

Ek voel veral bevoorreg om die waardering van die leierskap en die hele beweging oor te dra aan u, die lede van ons organisasie, wat u as ware kaders van die African National Congress, die agente van progressiewe verandering wat ons mense en die nasionale demokratiese revolusie nodig het, van u taak gekwyt het.

Dit is met groot gerusstelling en trots dat ek weet dat ons 'n ledetal het wat werklik die stryders van Umkhonto we Sizwe kan navolg en sê: Ons dien die mense van Suid-Afrika!

Ek is seker dat, as ons die besluite oor die ontwikkeling van kaders implementeer wat voortgespruit het uit die Kommissies wat hierdie belangrike saak bespreek het, ons verdere sukses sal behaal om die ANC te bou tot die soort instrument vir progressiewe verandering wat die uitdagings voor ons vereis.

Die Eed wat die Nasionale Algemene Vergadering besluit het moet deel uitmaak van ons lidmaatskapsvorm, wat nuwe lede moet aflê wanneer hulle aansluit, bepaal dat ons lede hulle verbind daartoe om mee te werk "om die ANC 'n nog meer doeltreffende instrument van bevryding in die hande van ons mense te maak".

Om hierdie doel te bereik beteken dat ons, die lede van die ANC, onsself moet sien en gedra as deel van hierdie doeltreffende instrument van bevryding wat ons mense dien en deel vorm van die massas.

Dit beteken dat ons in die volle sin van die woord die beginselposisie moet internaliseer dat ons vrywillig by die organisasie aangesluit het sonder oogmerke van materiële voordeel of persoonlike gewin, soos ons Eed bepaal.

Ons historiese demokratiese oorwinning het ons beweging in 'n posisie van politieke mag geplaas. Sedert 1994, die 82ste jaar van die bestaan van ons beweging, het ons mense aan ons die mandaat gegee om die posisie van 'n regerende party te aanvaar.

Om 'n regerende party te wees, beteken dat ons toegang het tot staatsbronne. Dit beteken dat diegene wat sake wil doen met die staat, interaksie het met diegene wat die staatsgesag beheer, die lede van ons beweging wat in die regering dien.

Dit beteken dat dié van ons wat in staatsorgane dien, die geleentheid het om andere te begunstig. Dit beteken dus dat ons voor die versoeking te staan kan kom om navolgers te koop, met geen agting vir die beginsels wat die aard van die ANC ten grondslag lê nie.

Dit alles maak die beheer oor staatsgesag 'n waardevolle bate. Dit maak lidmaatskap van die ANC 'n maklike toegangsroete tot staatsgesag. Dit maak lidmaatskap van die ANC 'n aantreklike kommersiële proposisie. Dit maak finansiële steun aan die ANC 'n belegging vir sommiges wat wil wins maak daaruit om sake te doen met die regering.

Niks hiervan is nuus vir die afgevaardiges na die Nasionale Algemene Vergadering nie. Om hierdie rede het die NAV ingestem dat ons in ons dokumente ons ondubbelsinninge afkeer in korrupsie moet uitspreek en ons opnuut daartoe moet verbind om dit te beveg.

Afgevaardigdes het verwys na resolusies wat ons op ons 50ste Nasionale Konferensie in Mafikeng in 1997 aanvaar het, waarin ons onder meer gesê het:

"Korrupsie het 'n negatiewe uitwerking op ontwikkeling en, as gevolg daarvan, lei dit tot groter armoede... Korrupsie ondermyn die oogmerke van die Nasionale Demokratiese Revolusie."

In reaksie hierop het die NAV nou na oorweging besluit dat almal van ons, lede van die ANC, die plegtige ondernemings moet maak wat in die Eed vervat word dat ons "die doelstellings en oogmerke van die African National Congress sal navolg soos uiteengesit in die Konstitusie, die Vryheidsmanifes en ander aanvaarde beleidsposisies... vrywillig by die organisasie aansluit sonder oogmerke van materiële voordeel of persoonlike gewin, en ... instem om die Konstitusie en strukture te eerbiedig en as 'n lojale lid van die organisasie te werk."

In ons besprekings het ons eerlik en reguit die realiteit aanvaar dat, ten spyte van die vooruitgang wat ons oor die afgelope 11 jaar gemaak het, ons nog baie het om te doen voordat ons daarin kan slaag om die erfenis van eeue van kolonialisme en apartheid af te skud.

In die Kommissies het die afgevaardigdes baie gedetailleerde voorstelle gemaak oor die spesifieke maatreëls wat ons moet toepas om die proses verder te versnel om 'n beter lewe vir almal te bou en 'n mens-gesentreerde samelewing te vestig. Dit word opgesom in die dokumente wat ons aanvaar het.

Hierdie dokumente demonstreer ons beweging se verbintenis om die beloftes aan ons mense na te kom. Dit dui op die talle uitdagings wat ons mense in die gesig staar - die uitdagings van armoede, werkloosheid, onderontwikkeling, gebrek aan grond en huisvesting, siektes, onkunde, misdaad en so aan.

In 'n poging om die belange van al ons mense, swart en wit aan te spreek, het ons selfs besluit dat ons die mate moet aanspreek waartoe ons tradisionele posisies in ons Strategie- en Taktiek-dokument konsekwent is met die fundamentele perspektief wat ons oorgeneem het uit die Vryheidsmanifes, dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier bly, wit en swart.

Hierdie Nasionale Algemene Vergadering en sy besluite is belangrik omdat die realiteit is dat dit 'n daadwerklike invloed sal hê op die toekoms van ons land en mense. Hoe goed hierdie besluite ook al op papier mag lyk, die massas van ons mense het die goeie reg om te wag en te kyk of ons dit sal implementeer, totdat dit werklik geïmplementeer word. Ons voordeel is egter dat ons mense steeds deel in 'n groot reserwe van vertroue in ons beweging.

Soos ons teruggaan na ons takke, streke en provinsies moet ons deur ons optrede voortgaan om aan ons mense te bewys dat hul vertroue nie misplaas is nie. Ons moet onder meer toesien dat ons noue kontak behou met die mense, altyd in staat is om na hul behoeftes om te sien en om hulle te mobiliseer in die weermag van heropbou en ontwikkeling waarvan ons in ons laaste Verkiesingsmanifes gepraat het.

In die loop van die geskiedenis het ons beweging voor baie moeilike oomblikke te staan gekom. Ons het nog altyd sterker daaruit na vore getree as gevolg van lojaliteit aan beginsels, die vermoë om in eensgesindheid saam te werk en die verbintenis tot een oogmerk alleenlik, en dit is om die mense van Suid-Afrika te dien.

Die Nasionale Algemene Vergadering het heel korrek steun uitgespreek vir die Adjunk-president in hierdie moeilike en pynlike tyd. Ons het weer eens die punt benadruk dat dit 'n beginsel van natuurlike geregtigheid is dat hy die geleentheid moet kry om homself te verdedig teen enige aanklag teen hom.

Ons staan almal saam in hierdie beginselvaste posisies en hoop saam met hom dat die regsproses nie onnodig vertraag sal word nie.

Ek doen 'n oproep op al ons lede om, terwyl ons wag op die uitslag van hierdie proses, ons sal optree op 'n waardige manier soos dit lede van die African National Congress betaam en in ooreenstemming met die tradisies van 'n beweging wat ons mense nie net respekteer nie, maar werklik liefhet en bewonder.

Ons moet baie versigtig wees om nie op te tree op 'n manier wat die beeld van die Adjunk-president of die ANC kan skaad nie. Dit is inderdaad in moelike en pynlike tye soos hierdie dat ons die grootste uitdagings in die gesig staar om as werklike lede van die ANC op te tree wat alles sal doen om die prestige, samehorigheid en eenheid daarvan te behou.

Die Nasionale Algemene Vergadering het vele take aan ons opgedra. Dit het die weg vorentoe aangedui om die proses van heropbou en ontwikkeling te versnel. Dit het ons genoop om nog harder te werk om die volkskontrak te versterk om die visie van die Vryheidsmanifes te vervul. Dit het ons verbind daartoe om ons bydrae tot die volgehoue stryd om Afrika se hergeboorte te verstewig.

Dit het aan ons die opdrag gegee om die eenheid van ons beweging en die eenheid van die Alliansie soos ons oogappel te bewaar. Dit het aan ons die opdrag gegee om saam voort te gaan as 'n selflose mag om al die mense van Suid-Afrika en van Afrika te dien, en om in solidariteit met al die ander progressiewe magte regoor die wêreld saam te werk.

Die afsluiting van ons werk by die Tweede Nasionale Algemene Vergadering moet die oomblik aandui waarop ons begin werk aan wat ons besluit het. Ek is vol vertroue dat ons in hierdie verband nie die verwagtinge van die massas van ons mense sal teleurstel nie.

Namens die Nasionale Uitvoerende Komitee wens ek alle afgevaardigdes 'n veilige reis huis toe en verklaar die Tweede Nasionale Algemene Vergadering gesluit.

Amandla!