Stellenbosch, 25 Oktober 1996
Meneer die Kanselier;
Meneer die Vise-Kanselier;
Lede van die Universiteit;
Geagte Gaste;
Dames en Here,
Soos daar in die voorstellings-rede genoem is, het ek uit hoofde van my huidige en vorige ampte al 'n hele paar ere-toekennings ontvang. Mense mag dus dink dat die woorde van waardering by sulke geleenthede later maar net 'n hoflikheidsgebaar word. Ek wil u egter verseker dat ek elke keer diep geraak word, nie bloot deur die eer wat my aangedoen word nie, maar veral deur die warm toegeneentheid wat spreek uit sulke gebare teenoor my. Vanaand weereens so; en ek bedank u.
Dit sou skynheilig wees om voor te gee dat ek nie diep onder die indruk is van die besondere geskiedkundige simboliek van hierdie geleentheid nie.
Uit die studente-geledere van hierdie universiteit het gekom elkeen van die Eerste Ministers wat in die tydperk tussen die twee Botha's blank-oorheerste Suid-Afrika geregeer het. Hierdie universiteit was die toonaangewende intellektuele tuiste van Afrikaner-Nasionalisme. Vanuit hierdie universiteit het apartheid veel van sy teoretiese regverdiging ontvang.
Hierdie inrigting het diep spore getrap in die veel-bewoe geskiedenis van ons land; 'n geskiedenis waarvan die letsels nog wys.
Vanaand ontvang u my met gasvryheid en warmte as die staatshoof van 'n demokratiese Suid-Afrika. Vanaand vereer hierdie eertydse bakermat van Afrikaner-Nasionalisme en blanke heerskappy, 'n persoon wat vir dekades lank as 'n aartsvyand van daardie orde gesien is. Vanaand ken 'n inrigting wat teoretiese regverdiging probeer gee het aan rasse-skeiding en diskriminasie, 'n ere-graad toe aan iemand wat byna 'n hele lewe lank vir nie-rassigheid geveg het.
Hierdie geleentheid se veel meer oor Suid-Afrika en Suid-Afrikaners as oor die een aan wie die graad toegeken word. Die geleentheid spreek daarvan dat ons op pad is on 'n gesamentlike toekoms te bou; dat ons besig is om die verdelende skanse van die verlede af te breek en te bou aan 'n nuwe nasie - verenigd in al sy ryke verskeidenheid.
En daarvoor bedank ek u uit die diepte van my hart.
Op hierdie pad van verandering en omvorming is daar nog ontsaglik veel wat gedoen moet word - in die land oor die algemeen en seer-sekerlik ook hier aan die Universiteit van Stellenbosch in die besonder. Dit behoef ons om, van die een kant, erkenning te gee aan die veranderinge wat wel plaasvind en, van die ander kant, toe te gee dat die snelheid en die omvang van die verandering nog heelwat te wense laat.
Vergun my om hierdie geleentheid ter ontvangs van 'n ere-toekenning so 'n bietjie te misbruik om 'n paar woorde oor sommige aspekte van die onderwerp te se.
Verlede week het daar iets baie betekenisvol hier vanuit Stellenbosch plaas gevind. Dit was toe die Stellenbosche Ring van die N G Kerk voor die Waarheids- en Versoeningskommissie 'n kollektiewe aandeel in die stelselmatige onreg van ons verlede bely het. Die boodskap wat daardeur uitgestuur is, en die effek wat dit op die proses van versoening sal he, kan nie onderskat word nie.
Die indruk wat daar by vele bestaan dat die Afrikaner-gemeenskap eensydig ontvangend staan teenoor die proses van versoening, sal kragtig aangespreek word deur optredes soos die van die Stellenboschse Ring. 'n Mens wil die wens uitspreek dat Afrikaners oor 'n wyer front op hierdie wyse in versoenende gesprek sal tree met mede-Suid-Afrikaners.
Niemand vra vir die verguising van Afrikaners nie; niemand verlang dat Afrikaners hulself kollektief in die openbaar moet verneder nie. Wat niemand egter kan ontken nie, is dat Apartheid 'n verskriklike onreg aan hierdie land land en sy inwoners gepleeg het; en dat Afrikaners 'n sentrale en wesenlike rol daarin gespeel het.
Wat die Stellenboschse Ring gedoen het, was om in nederigheid - nie vernederheid nie! - 'n grootheid van gees aan die dag te le. Dit is daardie ootmoedigheid en ruimheid van gees wat ons oopstel aan ons gesamentlike menslikheid, en ons in staat stel om hande te vat en die toekoms tegemoet te gaan, bewus van ons feilbaarheid en daarom oorgehaal om 'n herhaling van sulke onreg te vermy.
Die optrede van die Ring herinner ons ook aan 'n dun maar belangrike stroom in die geskiedenis van die Afrikaner en van hierdie universiteit wat dikwels heeltemal vergeet en verswyg word. Dit is ook uit hierdie universiteit dat sulke dapper stemme van waarskuwing en verset teen die apartheids-leer gekom het soos die van 'n B B Keet, Ben Marais, Johan Degenaar, Andre Hugo, Andre du Toit en andere. Dit is in die bevestiging van daardie stroom van u geskiedenis dat die grootste hoop le, nie net vir uself nie, maar vir Suid-Afrika.
Dit is ook in daardie Afrikaanse stem wat oop is vir en uitreik na die res van die samelewing, dat die saak vir die rol en plek van Afrikaans as wetenskapstaal die vrugbaarste gevoer kan word.
My standpunt oor en ingesteldheid teenoor Afrikaans is so dikwels gestel dat dit sekerlik nie hoef herhaal te word nie. Soos sekerlik die geval met alle tale is, het Afrikaans sy besondere ontwikkeling te danke of te wyte aan die magsverhoudinge in die samelewing. Die feit van die saak is egter dat dit 'n hoogs ontwikkelde akademiese en wetenskapstaal is. En soos die Kommissie op Hoer Onderwys ook in hul verslag meld: Afrikaans as wetenskapstaal is 'n nasionale bate.
Die uitdaging draai dus nie oor die uitwissing, al dan nie, van Afrikaans as akademiese medium. Die vraag is liewer: hoe beding ons onder mekaar 'n bedeling in die Suid-Afrikaanse universiteit-sisteem wat aan die volgende drie oogmerke voldoen. Eerstens dat daar ruimte geskep en behou word vir Afrikaans om te bly groei as taal van die wetenskap. Terselfdertyd dat nie-sprekers van Afrikaans nie op onregverdige wyse toelating ontneem word binne die sisteem nie. En verder, so dat die gebruik en ontwikkeling van 'n taal-medium nie bedoeld of onbedoeld die basis word vir die bevordering van rasse, etniese of eng kulturele afsondering nie.
Om die nou maar doodnugter en eenvoudig te stel: dit moet sekerlik moontlik wees, binne 'n sisteem met meer as twinting universiteite, om tot 'n vergelyk te kom dat daar ten minste een universiteit is wat dit as 'n hooftaak het om om te sien na die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese medium.
Hoe daardie inrigting ander tale ook akkommodeer, is besonderhede wat in onderhandeling uitgewerk kan word. As ons die groot politieke konflikte deur onderhandeling kon oplos, behoort so 'n aangeleentheid sekerlik nie onoorkomelik te wees vir die geleerdes van ons land nie.
As diegene wat vir Afrikaans omgee, hierdie gesprek voer in die gees van openheid en met die ruimheid van gees waarvan ons vroeer gepraat het, maak dit die saak soveel sterker. En word dit soveel makliker vir die van ons wat Afrikaans ter wille probeer wees.
Ek wil afsluit met 'n aanhaling uit 'n gedig van Breyten Breytenbach waarin hy die woord Afrikaans gebruik in die ruim betekenis "van Afrika." Die gedig is in die vorm van 'n brief aan die Afrikaner en kom uit die donker jare van Apartheid:
net die hoop dan, bars broer,
dat jy wat te klein was om op te neem
tog iewers in ons groot land nog opneembaar is
my broer, my dor, verlate broer:
iets wens dat mens weer in jou groei
dat alles groots, Afrikaans gaan word
en jy ook in mensbruin mense bloei.
Veel het sedertdien verander, maar dit bly my wens dat ons almal saam sal opgaan in hierdie groot land.
En dat Afrikaanse instellings en Afrikaanse mense nooit meer nors en eenkant en apart sal staan nie, maar ineen gevleg deel sal wees van die nuwe wat ons skep.
Dit is in die wete dat hierdie universiteit 'n groot rol te speel het om daardie wens te bewaarheid, dat ek die eer aanvaar om 'n alumnus van die Universiteit van Stellenbosch te word.
Ek bedank u.