| |
- Die ANC is 'n nasionale bevrydingsbeweging. Dit is in 1912 gestig
om Afrikane te verenig en die stryd om fundamentele politieke, sosiale
en ekonomiese verandering te lei.
- Vir nege dekades het die ANC die stryd teen rassisme en verdrukking
gelei, deur middel van georganiseerde massa-teenstand, die mobilisering
van die internasionale gemeenskap en die opneming van die gewapende
stryd teen apartheid.
- Die ANC het in die 1994-verkiesing 'n groot demokratiese deurbraak
gemaak, toe dit 'n ferm mandaat gekry het om 'n nuwe demokratiese Grondwet
vir Suid-Afrika te beding. Die nuwe Grondwet is in 1996 aanvaar.
- Die ANC is in 1999 weer tot die nasionale en provinsiale regering
verkies met 'n vergrote mandaat.
- Die beleid van die ANC word bepaal deur die lede, en die leierskap
doen rekenskap aan die lede.
- Lidmaatskap van die ANC is oop vir alle Suid-Afrikaners bo die ouderdom
van 18 jaar, ongeag ras, kleur of geloof, wat die beginsels, beleid
en programme van die ANC onderskryf.
WAT IS DIE OOGMERKE EN DOELSTELLINGS VAN DIE ANC?
- Die ANC se hoofdoelstelling is om 'n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese
en demokratiese samelewing te skep.
- Dit behels die bevryding van Afrikane in die besonder en swartmense
in die algemeen van politieke en ekonomiese onderdrukking. Dit behels
die opheffing van die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners, veral
die armes.
- Die stryd om hierdie oogmerk te bereik, staan bekend as die Nasionale
Demokratiese Revolusie.
WAARDEUR WORD ANC-BELEID GELEI?
Die Vryheidsmanifes, wat
in 1955 deur die Congress of the People aanvaar is, bly steeds die basiese
beleidsdokument van die ANC.
Die Vryheidsmanifes verklaar dat:
- * Die mense sal regeer
- * Alle nasionale groepe gelyke regte sale hê
- * Die mense sal deel in die land se rykdom
- * Die grond gedeel sal word tussen die mense wat dit bewerk
- * Almal sal gelyk voor die reg wees
- * Almal sal gelyke menseregte geniet
- * Daar werk en sekuriteit sal wees
- * Die deure van onderwys en kultuur sal oop wees
- * Daar huise, sekuriteit en gerief sal wees
- * Daar vrede en vriendskap sal heers
In 1994 het die ANC die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) aanvaar
as die basiese beleidsraamwerk wat die ANC sou lei in die transformasie
van Suid-Afrika. Die sleutelprogramme van die HOP is:
- om in basiese behoeftes te voorsien
- om ons menslike hulpbronne te ontwikkel
- om die ekonomie op te bou
- om die staat en samelewing te demokratiseer
- Die ANC-vlag bestaan uit gelyke horisontale bane van swart, groen
en goud. Die swart simboliseer die mense van Suid-Afrika wat geslagte
lank geveg het vir vryheid. Die groen simboliseer die grond, wat ons
mense eeue lank onderhou het en waarvan hulle verwyder is deur koloniale
en apartheidsregerings. Die goud verteenwoordig die minerale en ander
natuurlike rykdom van Suid-Afrika, wat aan al die mense behoort, maar
gebruik is om net 'n klein rasse-minderheid te bevoordeel.
- Die logo bevat 'n spies en 'n skild wat die vroeë versetoorloë teen
koloniale oorheersing, die gewapende stryd van die ANC se voormalige
gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe, en die ANC se voortdurende stryd
teen rasse-voorreg en verdrukking verteenwoordig. Die wiel dateer terug
tot die veldtog vir die Congress of the People, wat die Vryheidsmanifes
aanvaar het, en herdenk die gesamentlike vryheidstryd van al Suid-Afrika
se gemeenskappe. Dit is 'n simbool van die sterk nie-rassige tradisies
van die ANC. Die vuis wat die spies vashou, verteenwoordig die krag
van 'n volk wat verenig is in die stryd om vryheid en gelykheid.
- Die ANC se strydkreet, "Amandla ngawethu" of "Matla
ke arona" beteken "mag aan die mense", wat die sentrale
eis van die ANC weerspieël dat die mense moet regeer. Dit is 'n stelling
van die ANC se verbintenis om populêre demokrasie op te bou en te versterk,
en die aktiewe betrokkenheid van die mense in die stryd om hul lewens
te verbeter.
WAT IS DIE VERANTWOORDELIKHEDE VAN 'N ANC-LID?
Die waardes en beginsels van 'n ANC-lid sluit die volgende in:
- nederigheid en 'n selflose verbintenis tot die stryd om 'n nie-rassige,
nie-seksistiese en demokratiese samelewing;
- besorgdheid oor die wil en belange van die mense, wat vasgevang word
in die beginsels van Batho Pele - mense eerste;
- 'n verbintenis om die beginsels van die beweging en die besluite van
die kollektief te implementeer.
Daar word van ANC-lede verwag om:
- aan 'n ANC-tak te behoort, ledegeld te betaal en te help om die ANC
uit te bou;
- aktief deel te neem aan die bespreking, formulering en implementering
van ANC-beleid en -programme;
- die besluite van die betrokke strukture van die beweging te aanvaar
en te verdedig;
- die eenheid van die ANC en die demokratiese beweging te versterk en
om korrupsie, nepotisme en faksievorming te beveg;
- te stry teen rassisme, stam-chauvinisme, seksisme, godsdienstige en
politieke onverdraagsaamheid of enige vorm van diskriminasie;
- deurlopend op hoogte te bly van politieke en ander ontwikkelings,
en hul eie vermoëns op te bou as deel van 'n proses van lewenslange
onderrig;
- in voeling te bly met die mense en 'n aktiewe rol te speel in gemeenskapsake;
- op 'n voorbeeldige wyse op te tree in die alledaagse lewe, en nie
verantwoordelike posisies te misbruik vir selfverryking of persoonlike
voordeel nie.
WAT IS DIE STRUKTURE VAN DIE ANC?
- Die tak is die basiese eenheid van die ANC, waar lede deelneem
aan ANC-aktiwiteite en politieke besprekings. Die tak staan aan die
voorpunt van die gemeenskap, dien hul belange, druk hul strewes uit
en mobiliseer hulle om saam te werk vir plaaslike ontwikkeling. Elke
tak verkies 'n Tak- Uitvoerende Komitee by 'n Algemene Jaarvergadering.
- Die Streek- Uitvoerende Komitee (SUK) word elke tweede jaar
deur die verteenwoordigers van die takke in die streek verkies op 'n
Streekskonferensie.
- Die Provinsiale Uitvoerende Komitee (PUK) word elke drie jaar
deur die verteenwoordigers van die takke in die provinsie verkies op
'n Provinsiale Konferensie.
- Die Nasionale Uitvoerende Komitee
(NUK) is die hoogste orgaan van die ANC tussen konferensies,
en is belas daarmee om die organisasie te lei. Dit word elke vyf jaar
op die Nasionale Konferensie verkies. Die NUK verkies 'n Nasionale Werkskomitee
(NWK) uit hul geledere om die werk van die organisasie op 'n dag-tot-dag
basis te koördineer.
- Die Nasionale Konferensie, wat elke vyf jaar plaasvind, is
die hoogste besluitnemingsliggaam van die ANC. Takverteenwoordigers
maak ten minste 90 persent van stemgeregtigde afgevaardigdes op die
Nasionale Konferense uit. 'n Nasionale Algemene Raad (NAG) word tussen
Nasionale Konferensies byeengeroep om die programme van die beweging
te evalueer.
- Die ANC Vroueliga tree as 'n outonome liggaam
binne die algehele struktuur van die ANC op. Die oogmerk van die Vroueliga
is om vroueregte te beskerm en te versterk teen alle vorms van verdrukking,
en om toe te sien dat vroue 'n volle rol in die lewe van die organisasie
vervul. Die Vroueliga is oop vir alle vroue wat ANC-lede is.
- Die ANC Jeugliga tree ook
as outonome liggaam op, met die doel om jongmense te verenig en te lei
ten einde probleme wat die jeug in die gesig staar, aan te spreek, en
om toe te sien dat die jeug 'n volle en ryke bydrae tot die werk van
die ANC lewer. Lidmaatskap van die Jeugliga is oop vir almal tussen
die ouderdomme van 14 en 35 jaar.
WAT IS DIE DRIELEDIGE ALLIANSIE?
Die ANC is in 'n alliansie met die Suid-Afrikaanse
Kommunisteparty (SAKP) en die Congress
of South African Trade Unions (Cosatu). Elke alliansie-vennoot is
'n onafhanklike organisasie met sy eie grondwet, lidmaatskap en programme.
Die Alliansie is gebou op 'n gesamentlike verbintenis tot die oogmerke
van die Nasionale Demokratiese Revolusie, en die noodsaaklikheid om die
grootste moontlike deursnit van Suid-Afrikaners te verenig rondom hierdie
oogmerke.
WAAR OM DIE ANC TE VIND
ANC-takke is in elke stad, dorp en stat in Suid-Afika te vinde. Die ANC
het 'n nasionale hoofkantoor, nege
provinsiale kantore en verskeie
streekskantore. |